
Op 1 April 2011 het Kobus Rossouw en Elmari du Plessis saam begin praktiseer as Rossouw & Du Plessis Prokureurs.
Kobus en Elmari is sedert 1994 vriende en klasmaats en het saam gematrikuleer by Hoërskool Swartland, waarna beide aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer het. Kobus het sy LLB-graad in 2002 verwerf, terwyl Elmari in dieselfde jaar ’n BCom-regsgraad verwerf het, ’n jaar in Londen gewerk het en toe in 2004 ’n nagraadse LLB aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.
Nadat Kobus vir twee jaar as kandidaatprokureur by Fourie Basson en Veldtman gewerk het, het hy in 2005 by Gustav W. Cook Prokureurs in Malmesbury begin werk. Gustav Cook het in strafreg gespesialiseer en Kobus is aangestel om die siviele litigasie en ander algemene regswerk te hanteer. Hy het in 2008 ’n direkteur van hierdie firma geword.
Elmari het van 2005 tot middel 2010 by Marais Müller Yekiso gewerk, waarna sy by Gustav W. Cook Prokureurs aangesluit het.
Gustav Cook het in Maart 2011 na Australië geëmigreer en Kobus en Elmari het op 1 April 2011 onder die naam Rossouw & Du Plessis Prokureurs begin praktiseer.
Kobus is ’n gekwalifiseerde aktebesorger en spesialiseer in siviele litigasie, wat kontraktereg, skadevergoedingseise, egskeidings en skuldinvordering insluit. Hy hanteer ook arbeidsreg-aangeleenthede, die opstel van huweliksvoorwaardekontrakte en testamente en die bereddering van boedels.
Elmari spesialiseer in familiereg-aangeleenthede, byvoorbeeld egskeidings, onderhoud, dispute rakende die sorg van en kontak met kinders en Kinderhofverrigtinge, asook die opstel van surrogaat-ooreenkomste en aansoeke om sodanige ooreenkomste deur die Hooggeregshof te laat bevestig.
Elmari is ’n mediator en fasiliteerder en verkies om familiereg-aangeleenthede by wyse van mediasie te besleg. Sy is ’n lid van FAMAC (Family Mediators’ Association of the Cape).
In Mei 2011 het Retief Uys as prokureur by Rossouw & Du Plessis aangesluit. Hy het sy LLB-graad in 2005 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.
Retief het sy leerklerkskap by Marais Müller Yekiso voltooi, waarna hy van 2008 tot 2011 as prokureur gepraktiseer het by Russell Turner Prokureurs.
Retief spesialiseer in kommersiële en kontraktereg. Hy hanteer ook die oprigting en wysiging van trusts, boedels en testamente, asook immigrasie-aangeleenthede.